Death Of Young Denver Schreuder

5 June 2007

Mevrou die Adjunkspeaker, 22 Mei 2007 het vir my plaasarbeiderbuurman Derick Pieterse, sy vrou Mina en hul drie kinders soos `n normale, koue wintersoggend op Rooiheuwel, `n Bolandse wynplaas buite Wellington begin. Derrick het sy oorpak aangetrek en saam met sy mede-plaasarbeiders vir diens aangemeld om 7:30. Mina het die twee seuns afgesien skool toe. Mina is huisbediende by die plaaseienaar, maar is nog op kraamverlof om na die twee maande-oue babadogtertjie om te sien.

Die jongste seun, Denver, stap te voet in `n noordelike rigting na die Groenberg Primêr Plaasskool, `n paar kilometer van die huis af. Minute later is hulle lewe vir altyd versteur deur smart, toe hul seun Denver deur `n voertuig doodgery word. Daar is nie sypaadjies nie. Die ironie van die tragedie is dat plaaskinders, sommige kaalvoet, loop na die Agter-Groenberg Plaasskool in `n noordelike rigting, terwyl die witmense hulle kinders in `n suidelike rigting dorp toe ry na die ou model C-skole. So ry, beweeg, woon en groei ons na 13 jaar nog steeds by mekaar verby en kry baie mense elke dag nog steeds seer, hetsy fisies of psigies.

Ons bly na 13 jaar nog steeds apart van mekaar. Ons gaan na 13 jaar nog steeds apart skool. Ons gaan na 13 jaar nog steeds apart kerk toe. Mag die tragiese dood van die 12-jarige Denver Schreuder ons altyd herinner dat, alhoewel apartheid nie meer op die wetboek is nie, ons nog baie moet doen om ons samelewing te integreer en saam een nasie te bou. Die ANC simpatiseer hiermee met die Schreuder-familie en mag hulle krag en genade ontvang om hierdie smart en hartseer te kan verwerk. Ek dank u.

P A GERBER
ANC MP

For more information:
021 403 3107